Sout soesiering

Jy kan die ring ook vul met 'n melktertvulsel vir iets soets.

Genoeg vir 6 tot 8 porsies

100g  meel

Knippie sout

75g botter

200 ml water

3 eiers, lig geklits

1 eierwit, met vurk geklits tot skuimerig

20g gevlokte amandels

Vir die vulsel:

2 bakkies roomkaas

2 el suurlemoensap

30 ml fyngekapte sprietuie

2 dourissies fyn gekap

  • Sif meel
  • Verhit botter en water in 'n dikboomkastrol tot botter gemelt is
  • Verhoog die hittegraad en laat kook
  • Sodra die water vinnig kook, voeg die meel op een slag by
  • Verlaag die hittegraad en klop die mengsel met 'n houtlepel tot dit blink en glad word en 'n bol begin vorm
  • Laat afkoel
  • Voer 'n rolkoekpan uit met bakpaper en trek 'n sirkel van 21 cm daarop
  • Druk deeg in versieksakkie met 1.5 cm versierpunt
  • Spuit 'n deegring op die sirkel, dan nog een langsaan aan die binnekant en 'n derde in die middel bo-op die eerste twee
  • Verf met eierwit en besprinkel met die amandelvlokkies
  • Bak by 220° C vir 15 minute.  Verminder die hitte en bak verder by 200° C vir 25 - 30 minute tot goudbruin en ferm
  • Verwyder uit die oond en sny 'n paar kepies aan die kante om die stoom te laat ontsnap
  • Laat afkoel en vul met roomkaasmengsel
  • Garneer die ring met stukkies dourissie en sprietuie

Deegresep van Kelkiewyn Kookskool, Pretoria,  se Marieta Pieterse

Die ring kan ook met 'n dik vlaemengsel gevul word as jy lus is vir iets soets.

Yazdi muffins uit ou-Persië

280g meelblom

150g strooisuiker

15 ml bakpoeier

5 ml koeksoda

5 ml sout

2.5 ml fyn kardamonpoeier

2 eiers

60ml olyfolie

150ml wit jogurt

1 groot appel, geskil en gerasper

22.5 ml rooswater (1 ½ el)

VIr versiering

Amandelsplinters, of geroosterde, gekapte pistachioneute

Eetbare blomme

Gesifte versiersuiker

  • Voorverhit oond tot 200°C.
  • Smeer ‘n muffinpan met plek vir 12 muffins
  • Meng droë bestanddele deeglik.
  • Meng die res van die bestanddele deeglik met ‘n lepel om eier in te meng
  • Roer by die droë bestanddele tot net goed gemeng
  • Skep in pannetjies
  • Sprinkel die neute oor
  • Bak vir so 24 minute tot goudbruin en ferm
  • Laat afkoel en bestuif met gesifte versiersuiker voor bediening
  • Garneer met eetblare blommetjies

Pommes dauphine, oftewel, aartappelvetkoekies

Hierdie goetertjies is heerlike saam met braaivleis en vinnig (en maklik) om te maak.

Vir die deeg:
250ml kookwater
250 ml botter
250 ml meelblom
2.5 ml sout
4 eiers

Vir die fyn aartappels:
2 koppies aartappel, fyngemaak met botter en melk en gegeur na smaak
Voeg 60ml fyn parmesaankaas by

• Kook die water 
• Los die botter daarin op
• Voeg nou die meelblom en sout op een slag by
• Klop vinnig en goed tot die deeg ‘n bol vorm in die middel van die kastrol 
• Verwyder kastrol van die stoof en skep deeg in ‘n mengbak
• Laat effens afkoel
• Voeg nou die eiers een vir een by en klop goed na elke byvoegsel tot ‘n sagte deeg gevorm word
• Meng gelyke dele van die deeg met die fyngemaakte aartappel, koppie vir koppie
• Roer goed
• Bak dessertlepelsvol in diep olie tot goudbruin
• Dien warm op met fyngekapte pietersielie en gerasperde kaas

 

Regte outydse gemmerbrood

(Lewer 1 middelslag of 2 kleintjies)

125 ml suiker                                                                  

125 g margarien, by kamertemperatuur

1 ekstra-groot eier                                                      

250 ml gouestroop

625 ml koekmeel                                                          

5 ml koeksoda

5 ml kaneel                                                                     

10 ml gemaalde gemmer

2 ml gemaalde naeltjies                                            

2 ml sout

250 ml warm water

Verhit oond tot 180°C.  Smeer panne en voer boom met waspapier uit.

Veroom suiker en botter of margarien.  Voeg eier by en meng goed.  Voeg gouestroop by en meng goed.  Sif koekmeel, koeksoda, kaneel, gemmer, naeltjies en sout drie keer saam.  Voeg by suikermengsel en meng.  Voeg water by en meng tot gladde, loperige deeg.

Gooi deeg in panne, dit moet twee-derdes gevul wees.  Bak ongeveer 45 minute op die middelste oondrak tot gaar, toets met toetspen.  Laat effens in panne afkoel en keer dan op draadrak uit.

Resep van Liplekker.co.za (Joey Pienaar)

 

Kardamonkoekies

225g botter

150g strooisuiker

Fyngerasperde skil van een suurlemoen

250g meel

100g fyn amandelmeel, of fyngerolde amandelsplinters, effens gerooster

3tl kardamonpoeier

  • Klop botter, suiker en skil tot lig en romerig
  • Voeg nou die res van die bestanddele by en en meng tot ‘n stywe deeg
  • Rol in balletjies, en druk plat met die palm van jou hand
  • Druk ‘n patroontjie op elke koekie
  • Bak tot goudbruin by 190°C vir 12-14 minute, in ‘n oondpan wat met bakpapier uitgevoer is
  • Laat ‘n paar minute in die pan afkoel

Mens kan seker ook die patroontjie vervang met ‘n heel, geroosterde amandelpit

Bloukaastert

200g bloukaas

125ml room

2 eiers

2 velle filodeeg.  Of gebruik al die gehawende velletjies.

  • Voorverhit oond tot 180°C
  • Verf filo liggies met die gesmelte botter
  • Sny elke vel in 4 gelyk dele
  • Voer ‘n tertpan daarmee uit.  Moenine die punte afsny nie – laat dit oor die rand van die pan hang
  • Krummel die bloukaas in die pan – versprei eweredig op die bodem
  • Klits eiers en meng dit dan met die room
  • Giet die eiermengsel oor die bloukaas
  • Frummel die punte van die filo om ‘n rand te vorm binne die tertpan (sien foto)
  • Bak 30 tot 35 minute by 180°C
  • Bedien net so as ‘n soutgereg met slaai, of saam met ingemaakte kwepers, of vars of ingemaakte pere, vars vye of groenvyekonfyt.

Kerspasteitjies

Vulsel:

250g gekapte vrugtekoekmengsel

60g gekapte dadels

60g gemengde lemoenskil, gekap

60g suiker

60g gekapte amandels

Sap van ½ suurlemoen

Skil van 1 suurlemoen

50ml brandewyn/rum/Van der Humlikeur

5ml gemengde  speserye

2 ml kaneel

2ml gerasperde neutmuskaat

1ml wit peper

1 ml sout

  • Meng alles deeglik saam
  • Laat staan oornag in yskas

Kors:

200g koekmeelblom

110g botter

Knippie sout

1 el versiersuiker

2 el water

  • Meng meel sout en suiker
  • Vryf botter in
  • Bind met lepel vir lepel water (meng goed na elke lepel water tot ‘n bol deeg vorm)
  • Laat deeg rus in yskas vir 2 ure

Smeer mediumgrootte muffinpannetjies deeglik of spuit met kleefwerende sproei.

Rol die deeg baie dun uit

Druk twee sirkels uit vir elke holte – ‘n groter en ‘n kleiner een

Voer die holtes uit met die groot sirkel deeg – dit hoef nie tot heel bo te kom nie

Skep vol met die vrugtemengsel

Plaas die kleiner sirkel bo-op en druk kante deeglik vas teen die onderste een

Werk versigtig die randte af met ‘n vurk

Plaas die pasteitjies  in yskas 1 uur

Verf die pasteitjies met melk

Bak so 15 - 20 minute by 180°C tot gaar en effens bruin

Resep van Niël Stemmet: “Sout en peper”.  Effens verander.

 

Individuele vrugtekoekies

 

125g botter

1k suiker

1tl koeksoda

2k vrugtekoekvrugte

1k rooi en groen kersies, in kwarte gesny (so ‘n klein pakkie ven elk)

½k gekapte pekanneute

1k kookwater

2 eiers, geklits

2k meelblom

2 tl bakpoeier

2 tl gemengde speserye

1tl sout

125ml brandewyn

  • Voorverhit oond tot 180°C.
  • Kook vrugte/suiker/botter/water vir 3 minute.
  • Voeg 1tl koeksoda by.  Laat heeltemal afkoel.
  • Voeg eiers by en meng.
  • Skep meel, sout, gemengde speserye en bakpoeier by en meng deeglik.
  • Roer laastens die neute in die mengsel.
  • Skep die deeg in gesmeerde muffinpannetjies en bak vir so 20 minute tot ferm en gaar.
  • Jy kan dit ook in ‘n koekpan bak vir so 40 minute teen 170°C.
  • Sprinkel brandewyn oor sodra die koekies uit die oond kom.
  • Versier volgens smaak. 

My ou skool, Hoër Meisieskool Bloemhof, het gedurende my skooljare daar 'n resepteboekie uitgegee. Hierdie resep het daarin verskyn. Het dit self al 'n menigte kere gebak en dit het nog nooit geflop nie :0)
Jy kan enige droë of verglansde vrugte gebruik, solank dit altesaam 3 1/2 k is.
Dadels gee aan die koek 'n donker kleur.
Deesdae bak ek dit sommer in klein muffinpannetjies en broodpannetjies. Ook lekker as kerspoeding met 'n warm brandewynsous.

Franse vrugtetert (clafoutis)

1 k melk

3 eiers

125ml suiker

1 tl vanielje ekstrak

2 el gesmelte botter

125 ml meelblom

Vars vrugte: 1 peer, 1 groen appel, 1 pruim, paar donker druiwekorrels, paar aarbeie

  • Voorverhit oond tot 200°C
  • Klits die eerste 5 bestanddele saam
  • Voeg nou die meel by en klits tot ‘n gladde mengse
  • Skep die mengsel in ‘n glasbak
  • Rangskik die vrugte bo-op 
  • Bak vir 30 tot 40 minute tot goudbruin

Daar was ‘n soorgelyk  tert op ‘n episode van “Kokkedoor”, maar ek dink hulle het ‘n broskors gebruik. Die clafoutisdeeg vorm egter sy eie tipe kors.

Die Franse gebruik tradisioneel pruime of kersies, of seker enige steenvrugte in seisoen.