Herfsgeskenke

Herfs bly maar die mooiste seisoen

Herfs word ryp in goue blare, ja,

blosende wingerde verroes

voor die val.

Die druiwe is reeds af,

gistend op die doppe.

Wanneer gasborrels rys,

geur en kleur ontdop,

ontwaak die parfuum

in Franse eikehout,

wagtend op langdurige vertroeteling

tot volle wasdom -

geskenk van die gode.

 

Na ‘n volle somer aan die stok,

barstens toe volgepak met suiker,

is dit hanepoot se muskaat

wat uitbreek op die tong.

In korrels, gekroon met goue ringe

van edelvrot,

word die suikerstroop omtower

in  ‘n nektar,

‘n geskenk

van die eksotiese druif uit Alexandrieë,

met die elegantste aroma

vir sowel die mense as  die bye.

 

Stephan Lategan, Kaapstad, 9 Mei 2013.

©

 

Autumn leaves, hier gesing deur Eva Cassidy