Verrese Heiland
Die kerkklokke lui vanoggend anders.
Hulle is Paasklokke.
Hulle lui oor die vallei.
Hulle lui oor die stad.
Hulle lui oor die wêreld.
Die Here het opgestaan!
Ja, Hy het waarlik opgestaan!

Saam met Christene oor die wêreld, al u kinders,
wil ons aanbid, Oorwinnaar!
Saam met die klokke wil ons juig
oor die wonder van ’n graf in ’n tuin
wat oopgegaan het om nooit weer toe te gaan nie.

Daar’s ’n pad getrap deur die dal van die dood.
U het dit uitgetrap.
U het bloedspore getrap.
Die pad gaan deur die dood en die ewige lewe.
Ons gaan dié pad volg as U ons roep.

Ons het saam met U opgestaan, Here Jesus.
Hierbinne in ons hart is dit al anders.
Ons was met U in aanraking.
U het ons aangeraak.
Ons sal nooit sterf nie.

Want U leef!
U leef!
Ons juig oor U, Here Jesus.
Ons juig saam met die Paasklokke.
Ons juig in hierdie môre,
oor ’n nuwe môre
wanneer die klokke nie sal ophou nie,
wat sal môre bly
en nooit sal aand word nie.
Amen.

I L de Villiers

Kom kuier gerus ook by die Reis en spysblog by http://www.madelieblog1.com,  die Kersfeesblog by http://www.madelieblog.simplesite.com en 'n blog vir die liefhebbers van koormusiek by http://www.choralblog.com.

 

 

Groete

Madelie