Die Oosterse Ortodoksekerke, beskou Paasfees as baie belangriker as Kersfees.

Nie alleen word Goeie Vrydag gevier nie, maar om middernag op die Saterdagaand word die kerkklokke vreugdevol gelui om die opstanding aan te kondig en die feesvieringe in te lui. 

Ek was so gelukkig om al twee keer Rusland te kon besoek, hoewel nie gedurende die Paastyd nie.

In die Hermitage Museum in St Petersburg, het ek die eerste keer in die vlees kennis gemaak met die ongelooflike Russiese mansstemme, toe 'n ensemble in die museum 'n uitvoering gegee het.  

Sal nooit die asemrowende klank en die samesmelting van die stemme in die reuse vertrekke van die Museum, voorheen die winterpaleis van die Tsar, vergeet nie.

Op 'n bootreis op die kanale en die Wolga vanaf St Petersburg tot by Moskou, het die boot by heelparty klein dorpies aangedoen. By die meeste van hulle het daar professionele kunstenaars in die kerkies opgetree wat gedurende vakansietye iets ekstra wil verdien.

Ons het dus 'n hele paar ongelooflike musikale ervaringe beleef.

Luister bietjie saam na die asemrowende mooi musiek van die Russiese Ortodoksekerk. 

Die unieke basstem, is dié van Vladimir Pasjukov, heelmoontlik die laagste basstem van ons tyd.